Thursday, 11 July 2013

'n Huis is nie net "Bricks and Mortar" nie


Dit is die tweede week wat Harry weg is vir werk, verlede week was dit Madiba watch, en hierdie week is hy in die Modjadji vallei saam met UNISA. Hy kom Vrydag huistoe, en dan kan ons vinnig in ons huis in trek, voordat hy weer moet weg gaan Oos Kaap toe, en ek die week daarna vir ‘n week moet Botswana toe.
In die nag lê ek en hy, al is dit nie saam nie, altwee wakker en dink aan honderde dinge wat nog gedoen moet word, hoe die logistiek gaan werk, en ja, tel die sente. Soms voel dit of my senuwees regtig aan ‘n flenter hang, en ek kan sien vir Harry begin dit ook sy tol te eis. My werk gaan woes, tien tot twaalf ure werksdae; boonop sukkel ek met versekerings eise van ‘n bumper bashing ‘n week of twee gelede, my klerekas is in my kattebak, en ek verlang my vrek na die groot man. Maar iewers in al hierdie deurmekaarheid, en misverstande en frustrasies, kry ek myself elke keer weer aan die glimlag as ek weet wat op ons wag. Ek en Harry en ons Pienkhuis. ‘n Huis is nie net “bricks and mortar nie”.
Jy sien, dit het als begin een warm nuwejaars aand op Tweefontein, net anderkant Bapsfontein. Ek en Magda Koen het die pad gevat na die Melkery toe, om 2012 op ‘n hoë noot in te gaan. Na ‘n ietwat obskure begin tot die aand, by die Flight Inn op Bapsfontein waar ons moes stop vir aanwysings, het ons eindelik ons bestemming bereik, en saam met ons maats die nuwejaar in gekuier. Dis hier waar ek vir Harry gekry het. Hy het ‘n bietjie meer as ‘n dekade lank ‘n sorgelose bachelors bestaan op Tweefontein gevoer, en ek, vir bietjie meer as ‘n dekade lank baie hard aan my loopbaan gewerk, ernstig en vasberade – tipiese singletons, beide van ons. Maar daai aand, sommer so dat nie een van ons dit eintlik agter kom nie, het ons paadjies een pad geword. Ek’t hom herken asof ek hom my hele lewe lank al – en moontlik ‘n paar lewens voor hierdie een – ken. Die volgende dag het hy my wakker gebel uit ‘n doodse babbelasie, om te hoor of ek veilig by die huis is, en of ek nie maar weer wil kom kuier nie. Ek het, en ‘n week daarna het hy my gebrande lamsbredie geëet, en ‘n jaar later het ek hom gevra of hy nie maar met my wil trou nie - heel romanties op die oewer van die Oranje rivier in Namibië, tydens ‘n kanoe vaart waar ons meer geswem as geroei het.
Natuurlik, as mens besluit hierdie een is vir ewig, moet mens ‘n plan maak om lewens, en leefstyle te konsolideer, en dis juis die besef, wat gemaak het dat ons uiteindelik by Pienkie uitgekom het. Hier gaan ek en Harry konsolideer. Hier gaan ons klere in die selfde kas hang, en ons boek versamelings een word. Dis hier waar ons onpas eetgerei stelle in dieselfde laai gaan lê, en dis hier waar ons tandeborsels op dieselfde wasbak gaan staan.
Vir my en Harry, was die konvensionele idée van trou nog ‘n baie vreemde konsep toe ons mekaar ontmoet het. Julle moet nou onthou, Harry word amper veertig (askies Bok), en ek stap vinnig aan na my middel dertigs toe. Ek dink ons het altwee al vrede gemaak dat dit vir ‘n ander leeftyd bedoel is. Maar tog, en dit is waar wat hulle sê, when you’ve found the one, you’ve found the one. Dis net so bleddie maklik. Als is net so bleddie maklik. Selfs ‘n gestryery oor teels en waar die eiland in die kombuis moet staan, en ‘n gekerm oor lysies en planne is maklik. 
Dit laat my uitsien na hierdie konsolidasie. Want as ons deur hierdie laaste vier maande kon kom, en glo my, die gemoedere het soms hoog geloop soos wat almal ons gewaarsku het, gaan die res van ons lewens mos net ‘n wind van agter wees (met dalk ‘n stormwind nou en dan).
Die punt waarby ek wil uitkom, is dat Pienkie vir ons meer as net ‘n huis is, dis ‘n nuwe begin, dis ‘n samevoeging van beide my en Harry se goeie, en slegte. Dis die konteks van ons toekoms saam.  Nie net stene en sement nie, maar ‘n doek waarop ons prentjie geteken kan word, waar die geheel van ons altwee saam, baie groter is as die som van ons twee as individue. Sinergie. Dis wat Pienkie is. ‘n Pienk Huis van Liefde en Lig. En f*kken baie lekkerkry.

1 comment: