Monday, 17 June 2013

Hoekom dan nou juis Mootenaars



Hoekom dan nou juis Mootenaars?

Harry is moeg vanaand, so nou neem ek my kans waar om ook ‘n paar woorde neer te pen. Die arme man werk homself oor ‘n mik. Die ding is, my trek lorrie kom my meubels haal Saterdag (jip, oor 5 slapies). Die plan was om teen die 22e klaar gebou te wees, en die week daarna te verf, en dan kan ons intrek. Baie entoesiasties, dis hoe my Bok is. En dis hoekom hy dinge gedoen kry, dalk nie altyd soos wat hy beplan het nie – jip, hy beplan deesdae – maar hy kry dinge gedoen
.
Maar tog, al probeer ons hoe hard, daar is net so baie werk om te doen, so my goeters gaan maar beitjie moet stof opgaar, terwyl ons klaar verf en laaste afwerkings doen, voordat ons Harry se trek bring.

Daar’s natuurlik ‘n slaak van verligting aan sy kant, sy hart trek punt nog plaas toe, en na Tweefontein, waar hy sy bachelors lewe geslyt het, waar hy allerande goed opge.... uhm, versamel het. Ek het die trek storie onder die knie – in my 32 jarige bestaan, het ek al 30 keer getrek. Maar Harry, ai, vir hom is dit maar swaar.
Maar kyk, waar ek  partykeer dink ek en Harry kom vir seker van dieselfde planeet af, is dit as dit kom by die sentimentele. Juis vanmiddag pak ons ‘n paar boeke uit solank, en kom op sy matriek ekonomie boek af. 21 jaar later. My groot lekkerte van trek is altyd as ek my bokse onder die kas kan uithaal, en weer AL my briefies, en verjaarsdag kaartjies, en mementos en afskeur lappies en bottel doppies wat elkeen IETS beteken weer kan kyk.
Dit is tog die tasbare van jou verlede. Harry se 487 kopië van die FHM. My 8 skoenbokse vol foto’s van hoërskool wat almal uit fokus is. Niks mag weggegooi word nie. Als word saam getrek, en daar kry my verlede, saam met Harry se verlede, ‘n nuwe tuiste, in ‘n woonbuurt waar baie dinge ook nog effens sentimenteel, en nostalgies is
.
In die Moot hoor jy klokslag nog die trein in die middae. 

In die Moot kan jy nog op ‘n Vrydag middag vir R30 ‘n 500g T-bone steak MET chips en groente koop.

In die Moot groet die tannie by die kafee jou op die naam, en vra hoe dit met jou familie gaan.

In die Moot loer jou buurman vir jou oor die muur, en is dankbaar dat daar weer “nice young people” is.

In die Moot kom die roomys karretjie nog verby, met die selfde deuntjie wat hy 25 jaar gelede gespeel het. (Ek was in vervoering vanmiddag).

In die Moot ry almal nog fiets, hieronder is Harry in ons straat:



Die gevoel van ‘n “gemeenskap” is nog baie sterk daar, mense gee om, stel belang, en al is dit soms pure nuuskierigheid, maak dit veral vir my ‘n groot verskil, om deel te voel van ‘n groter gemeenskap. Jy weet, so effens nostalgies, soos wat mense 30 en 40 jaar gelede geleef het. Die Moot was groot in die nuus hierdie naweek, ‘n troetelvark het iemand gebyt, en ‘n polisievrou moes dou voor dag ‘n mak emoe aankeer wat mal in die straat rondgehol het. Groot nuus.

Selfs in ou Pienkie was die tekens van “yesteryear” nogal opvallend.

Hier is twee foto’s van wat ons opgespoor het in die huis, my hart is gebreek dat my hondjie teël gesneuwel het in die gebou en gekappery. Die metric converter bly. Mens weet nooit....





Vir duidelike redes, het ek en Harry dadelik tuis gevoel in hierdie woonbuurt, so half asof mens nog kan onthou hoe mens geleef het dàài tyd, jy weet, toe mens nog jou kos by die Cashbah kon koop sonder geld. (Bid jou aan, ek het dit hierdie week reggekry).

Dis my laaste week as ‘n Johannesburger. Dit was goeie jare. Maar hier kom ons Pretoria! Nou moet jy jou skirt vas hou!

1 comment: