Monday, 24 June 2013

The Poefie has hit te fan



Hallo Daar Julle

Jammer ek was nou so lank van die blog af maar ek moes bietjie die rekeninge betaal die laaste week.  Ek meen ek moes bietjie regte werk doen waarvoor mense my gaan betaal. Dit het wel nie so goed gegaan nie.

Die proverbial “poefie has hit the fan” en ek bedoel nie net met die bouery nie.

Laat ek by laas Maandag begin. Toe ek die oggend 4uur wakker word uit my onrustige slaap dog ek ‘n ou glasie water gaan lekker wees. Maar al wat verander het toe ek die kraan opgedraai het was my gesigsuitdrukking. Daar was geen water nie, die tenk droeër as bergie se papsak na die naweek. Ek trotseer toe die koue en gaan start die pomp, dis n goeie 50m weg van my huis af. Die gevolg is dat ek my week begin het met n heerlike koue stort. Niks kry jou aan die gang soos n koue stort in die middel van die winter nie.

Toe daag een van die bricklayers nie op nie, maar gelukkig het hulle gou iemand anders gereel. Die een wat nie opgedaag het nie het in elk geval Vrydag my kombuiskas so skeef gebou dat ek die ding laat afbreek het. Ons het maar bietjie vas gesit want my Mosambiekaans is nie so goed nie en die man se Engels ook nie.
Hier is die skewe kas.

Hier is die reguit kas.


Dinsdag het dinge beter gegaan, die manne het die kaste begin klaar maak en ek kon begin sien hoe ons sement kombuis gaan lyk.
Een ding wat wel gebeur het Dinsdag, is dat ek nie werk gedoen kon kry nie. Ek moes ‘n corporate script skryf maar elke keer as ek net gaan sit om te begin werk dan is daar iets wat ek moet check of moet gaan koop, so ek het nie by die script uit gekom nie. Die ding moet Woensdag in.

Woensdag begin ek met ‘n ietwat koelerige stort maar dis nie einde van die wêreld nie ek is darem ‘n taai seun van Afrika. Toe ek by Ou Pienkie kom vertel Terry my dat hy nou net n oproep van die plaas gekry het en dat my geyser  gebars het en my huis is onder water is (fokken great). My gemoed sak. Gelukkig kry ek uitstel tot Vrydag vir die script (mense verstaan dat jy nie gaan werk as jy geworry is oor jou huis wat nou double as die stel van “Waterworld” nie). Ou Margret het darem gou opgetree en toe sy sien daar kom water uit die dak uit waar daar nie gewoonlik water uitkom nie het sy mense geroep om te kom help. Die gevolg is die huis se water was gou genoeg toe gedraai dat basies net die matte nat geword het.  Shoey, wat n verligting.

Oo ja my missing bricklayer het die dag ook terug gekom, my oorspronklike bouspan van vier het nou gegroei na ses.

Donderdag begin die kombuis nou rerig bymekaar kom, ek kry nogsteeds nie aan my script gewerk nie.
die kombuis se vordering

Vrydag. Karlien sou die naweek uit haar plek getrek het en ons so haar goed in een van Pienkie se garages gestoor het maar dit het nie gebeur nie.  Die bouers het nog heelwat werk om te doen. Ek wil eers die bouers uit die huis kry sodat daar spasie is om Karlien se goed te stoor. Julle sien, op die oomblik is die garages vol kaste en bou materiaal. Ons het haar trek na die volgende naweek geskuif. Dit nou ook nadat ek Donderdag amper ‘n kamer met ‘n sagte muur vir haar moes boek omdat sy my nie in die hande kon kry nie. Dis nou wat gebeur as mens ‘n verhouding probeer bou op selfoon seine wat net SOMS beskikbaar is. 

Saterdag het ek aan ‘n advertensie geskiet en Maandag en Dinsdag is ek in Groot Marico vir werk. Um ja, ek het toe nie Vrydag by die script uitgekom nie, sal dit Maandag inglip en hoop niemand sê iets daaroor nie.

Okay dis nou Maandag en ek is in Groot Marico. Saterdag was blerrie lekker, ek was bietjie weg van die Ou Pienkie en het lekker agter’ n kamera in gegly en myself geniet  (hel ek het’ n lekker job, dis nou as ek ‘n job het), maar vandag mis ek weer my ou huis, ek wil he die ou dame moet klaar en nou staan sy alleen en wag vir ons terugkeer. As my planne werk sal die bouers Vrydag klaar wees met alles behalwe die stoep en ek dink amper ek moet dit self prober doen (okay ek sal seker vir n halfuur sukkel voor ek die bouers bel).

Hier is n paar random fotos 

Toe ons met die kombuis begin het

Hier is n foto wat ek vir Karlien gestuur het om te vra of sy nie dink die toonbank is n bietjie hoog nie. ons het toe 'n ry stene uit gehaal. Anders sou sy die heel tyd op haar tone moes staan.


 

My F-oppie met die vloer wat ek laat opkap het was toe nie n F-oppie nie. Nico het gesê ek moet sommer die hele ding opkap en dan die nuwe vloer gelyk gooi. (jip ek het dit so voorspel in my onderbewussyn en wou dit net nie herken tot iemand dit bevestig het nie) so dis hoe die vloer gelyk het toe ons klaar was.


Hier is my Duifie besig om hard te werk en Pienkie se gate toe te pollyvilla.


Hier is ons toekomstige stoep/bar, as julle mnooi kyk sal julle sien hy het sy eie toilet.

 Hier is ons kombuis vordering, julle het klaar daar bo die eerste stappe gesien.
Lintels op.
 Pleister op.
Screed op.



Hier is hoe ons kombuis nou lyk. (hot shit, nê)



Dis al vir nou. Ek wag nog vir iemand om my regsadvies te gee oor die GGD en die Kruger miljoene wat ek vermoed daar binne is.

En ek het toe die script klaar gemaak Sondag aand 12uur met meer koffie in my lyf as Uganda in ‘n jaar kan vervaardig. En my Duif kan nou rustig haar goeters pak vir Saterdag se groot trek.

So cheers vir nou

Monday, 17 June 2013

Hoekom dan nou juis Mootenaars



Hoekom dan nou juis Mootenaars?

Harry is moeg vanaand, so nou neem ek my kans waar om ook ‘n paar woorde neer te pen. Die arme man werk homself oor ‘n mik. Die ding is, my trek lorrie kom my meubels haal Saterdag (jip, oor 5 slapies). Die plan was om teen die 22e klaar gebou te wees, en die week daarna te verf, en dan kan ons intrek. Baie entoesiasties, dis hoe my Bok is. En dis hoekom hy dinge gedoen kry, dalk nie altyd soos wat hy beplan het nie – jip, hy beplan deesdae – maar hy kry dinge gedoen
.
Maar tog, al probeer ons hoe hard, daar is net so baie werk om te doen, so my goeters gaan maar beitjie moet stof opgaar, terwyl ons klaar verf en laaste afwerkings doen, voordat ons Harry se trek bring.

Daar’s natuurlik ‘n slaak van verligting aan sy kant, sy hart trek punt nog plaas toe, en na Tweefontein, waar hy sy bachelors lewe geslyt het, waar hy allerande goed opge.... uhm, versamel het. Ek het die trek storie onder die knie – in my 32 jarige bestaan, het ek al 30 keer getrek. Maar Harry, ai, vir hom is dit maar swaar.
Maar kyk, waar ek  partykeer dink ek en Harry kom vir seker van dieselfde planeet af, is dit as dit kom by die sentimentele. Juis vanmiddag pak ons ‘n paar boeke uit solank, en kom op sy matriek ekonomie boek af. 21 jaar later. My groot lekkerte van trek is altyd as ek my bokse onder die kas kan uithaal, en weer AL my briefies, en verjaarsdag kaartjies, en mementos en afskeur lappies en bottel doppies wat elkeen IETS beteken weer kan kyk.
Dit is tog die tasbare van jou verlede. Harry se 487 kopië van die FHM. My 8 skoenbokse vol foto’s van hoërskool wat almal uit fokus is. Niks mag weggegooi word nie. Als word saam getrek, en daar kry my verlede, saam met Harry se verlede, ‘n nuwe tuiste, in ‘n woonbuurt waar baie dinge ook nog effens sentimenteel, en nostalgies is
.
In die Moot hoor jy klokslag nog die trein in die middae. 

In die Moot kan jy nog op ‘n Vrydag middag vir R30 ‘n 500g T-bone steak MET chips en groente koop.

In die Moot groet die tannie by die kafee jou op die naam, en vra hoe dit met jou familie gaan.

In die Moot loer jou buurman vir jou oor die muur, en is dankbaar dat daar weer “nice young people” is.

In die Moot kom die roomys karretjie nog verby, met die selfde deuntjie wat hy 25 jaar gelede gespeel het. (Ek was in vervoering vanmiddag).

In die Moot ry almal nog fiets, hieronder is Harry in ons straat:



Die gevoel van ‘n “gemeenskap” is nog baie sterk daar, mense gee om, stel belang, en al is dit soms pure nuuskierigheid, maak dit veral vir my ‘n groot verskil, om deel te voel van ‘n groter gemeenskap. Jy weet, so effens nostalgies, soos wat mense 30 en 40 jaar gelede geleef het. Die Moot was groot in die nuus hierdie naweek, ‘n troetelvark het iemand gebyt, en ‘n polisievrou moes dou voor dag ‘n mak emoe aankeer wat mal in die straat rondgehol het. Groot nuus.

Selfs in ou Pienkie was die tekens van “yesteryear” nogal opvallend.

Hier is twee foto’s van wat ons opgespoor het in die huis, my hart is gebreek dat my hondjie teël gesneuwel het in die gebou en gekappery. Die metric converter bly. Mens weet nooit....





Vir duidelike redes, het ek en Harry dadelik tuis gevoel in hierdie woonbuurt, so half asof mens nog kan onthou hoe mens geleef het dàài tyd, jy weet, toe mens nog jou kos by die Cashbah kon koop sonder geld. (Bid jou aan, ek het dit hierdie week reggekry).

Dis my laaste week as ‘n Johannesburger. Dit was goeie jare. Maar hier kom ons Pretoria! Nou moet jy jou skirt vas hou!

Wednesday, 12 June 2013

Donder-dag die GGD en my eerste groot F-oppie



Wel , Donderdag was toe ‘n dag soos die naam sê, net nadat ek my nuwe post op gesit het ontdek ons nuwe probleme.

Eerstens besef ons die woonstel se toilet lek.

Tweedens, nadat Terry die hele dag in die dak spandeer het om die geyser se pype te vervang, besef ons die ding is gebars. Die arme man het gesweet in daai dak, en dit alles verniet.

Derdens het die gaste toilet ook ‘n probleem het. Die drein is nie verstop of iets nie. Nee, dis veel erger as dit. Ek weet nou nie of dit die ouderdom van die bak of iets is nie maar die ding spoel niks weg nie. As jy daai ketting trek  maak hy n kolgat soos daai een waarin die “Black Pearl”  vasgevang was in “Pirates of the Carribean”, maar nie soos die Black Pearl nie, gaan daai goed nêrens nie.  Dis nogal n probleem as ‘n ding wat se hele doel en bestaan gaan oor die verwyder van goed uit oog en neus nie sy ding kan doen nie. Die ergste is, dis my troon, die een wat Karlien my gaan toelaat om te decorate nes ek wil. Nee, ek sal ‘n plan daar moet maak.

Vrydag was Terry nie saam nie, toe doen ek maar alles wat ek kan hier om die huis, ry vullis weg, haal spykers uit mure, maak vriende met die bure (‘n aangename Duiste oom). Maar voel die einde van die dag weer asof daar nie veel verrig was nie. Dit wil my voorkom my beperkte skills laat my bietjie in die steek as daar nie iemand hier is om te help nie.

Die naweek kon ek met trots die huis vir Karlien gaan wys. Jip, ek dink ek het haar impress, ek het nou nie al die werk self gedoen nie maar dit het my nou nie gekeer om die krediet daarvoor te vat nie.

Nou om te sê Ou Pienkie het ‘n paar deure is soos om te sê Julius Malema skuld ‘n klein bietjie belasting, dis net eenvoudig nie waar nie. Sy het meer deure as wat Suid Afrika oneerlike politici het.  Die een ding wat saam met so baie deure kom, is baie sleutels, en dis wat ons twee die naweek moes probeer uitsort. Hier onder is ‘n foto. Moet nou nie te gou wees om ons n high five te gee en geluk te sê nie. Behalwe vir een stel voordeur sleutels het ons nogsteeds nie ‘n clue wat die ander oop maak nie.

Hier is omtrent 'n kwart van die sleutels




Okay, terwyl ek nou oor sleutels praat is dit tyd vir groot nuus. So gaan maak vol jou dop, gooi n vars tee of koffie, kam jou hare terug, maak vas jou sitplek gordel, sit aan jou 3D brille of wat ookal jy doen in afwagting.
   
Agter in ons erf is daar n ding wat mens seker net kan beskryf as “Die Groot Grys Drom”. Die foto is hier onder. Die ding is toegesluit met ‘n groot slot en wat daar binne is weet niemand nie. Van ons eerste besoek af, wonder ons al wat binne daai ding is. So ons het nou besluit as ons eers in die huis is gaan ons ‘n grinder vat en ‘n groot “reveal” hou. Julle moet solank maar julle spekulasies comment.  Daar kan enige iets binne daai ding wees van die verlore Kruger Miljoene (as dit die geval is, kan iemand met ‘n wetlike agtergrond my aseblief laat weet of ons ‘n voet het om op te staan as ons die goud wil claim) tot vermoorde ou lovers.


Die week is die bouers hier en ek is weereens ge-demote na die ou wat die heel tyd goed moet gaan haal. Ek ry op en af, koop die goed en daai goed, verder probeer ek net die hele proses in orde hou. Dis blerrie scary, want jy wil nie hê enige iemand moet vir iets of iemand wag nie anders kos dit geld, die gevolg is dat ek tot 4:00 wakker lê en dink wat gedoen moet word, dan ‘n power nap vat net om alles vergeet as ek wakker word ( ek moet dalk ‘n pen en papier langs my bed hou). Kevin sou sy kop geskud het.
Wel hier is n paar fotos van wat  hier aangaan.

Voor en na: ons skuif die woonstel se vensters en deure na buite sodat nie op die binnehof (ek hoop dis reg vir courtyard) uitloop en kyk nie.




Ons toe geboude binnehof.


Praat van Kevin wat sy kop sou skud ek het vandag my eerste groot f-oppie gemaak. Ek het laat die manne die kombuis vloere uitkap maar ek het sommer gese hulle moet tot op die concrete kap. Dit was toe nie reg nie, hulle moes net die teels afkap. Maar Nico se ons sal dit maklik kan uitsort, ek hoop net nie dit buig die budget nie.
Hier is fotos van hoe ek hulle dit laat doen het.



En hoe hulle dit moes gedoen het




  Wel dis al vir nou, laat ons weet wat julle ding is binne die GGD.

Cheers

Harry

Thursday, 6 June 2013

Broekskeur en die Titanic






Maandag trek ek ‘n ou broek aan, want daar sou mos nou hard gewerk word. dit was die eerste dag van werk aan Ou Pienkie, en ek wou nou nie hê my klere moet verniel nie, wel  dit was toe nie die harde werk wat die broek se einde was nie.

Ek en Terry het vol bravado van die plaas gery na Ou Pienkie toe.  Ons taak was eenvoudig: plug en vervang die gesteelde krane, sodat ons die huis se water weer kan aansit.

Dis toe nie wat gebeur het nie.

Ou Pienkie is nie vandag se kind nie, sy is gebou in die dae toe mense nog nie in tiene gedink het nie. Hulle het nog gehou van dinge in duime, voete en elle uit werk. Vir n man wat sy hele lewe al op metric werk is dit baie deurmekaar; deel die een deur twaalf maal die ander een met 3, trek die vierkantswortel van die priemgetal af en jy het die antwoord van die pyp se lengte en dikte, of dis omtrent hoe dit voel. Dankie tog ons werk nie meer so nie (arme Amerikaaners). Om eerlik te wees word alle loodgieter werk  nogsteeds op die ou manier gedoen maar ons weet darem nou al n half duim pyp is 15mm. Om n lang storie kort te maak  stel ek en Terry ‘n lys op van goed wat gekoop moet word, ek gaan koop dit toe maar toe pas dit nie, toe gaan ruil ek dit weer om, en om, en om, en om (okay, baie kere). Dit het die hele dag so gegaan, dan ry ek die kant toe en dan weer daai kant toe. Ongelukkig vir my het daai ou broek van my nou nie meer die sterkste material  oor nie en met al die ge in en uit klimery besluit hy om te skeur net waar my twee boude bymekaar kom. Dankie tog ek het lus vir commando (dis nou sonder n onderbroek loop) laat gaan toe ek in my twintigs was, anders sou die mense van Builders baie meer gesien het as my grys en pienk onderbroek (pienk broek vir eienaar van die pienk huis).
Ons het misluk in ons take vir die eerste dag. Ons kon nie al die krane geruil en gestop kry nie. Plumbing is ook nie juis die mees visuele werk nie, so as jy klaar is, kan jy nie regtig terug staan en se “jis maar ek het baie verrig gekry vandag” nie.

Dinsdag het beter gegaan. Na meer as n half dag se spook het Ou Pienkie vir die eerste keer in n lang ruk weer water.  Dis net koue water maar nou kan ons ons hande was en die toilet gebruik (die bure se oë rek al as hulle sien ek kom staan daar teen die muur).

Die een pyp wat ons moes reg maak het n slang in gehad, nou nie n regte een nie maar n wortel een. Dit demonstreer net hoe lank terug iemand die pyp geliberate het van sy concrete gevangenis.


Na die plumbing kon ons die eerste kas uitbreek, dis nou die een in my en Karlien se slaapkamer, waar plumbing nie bevredigend is nie was hierdie defnitief iets om te geniet. Jy kan dadelik die sweet van jou werk beskou. 
So hier is n before en after van ons slaapkamer. Daar was n deur in die kas en dit gaan nou weer n deur word. daar langs die ronde gunslinger wat ek is.



Woensdag is breekdag. Ons het die hele dag net kaste uitgebreek en geskuif.

Eerstens het die goed uit die huidige kombuis verdwyn soos ‘n burger wat in Jimmy Abbot in vasloop.  Die ou kombuis gaan nou ons opwas word.



Toe moes die muur tussen ons nuwe kombuis en eetkamer waai. Hier onder is before and afters.

Van die een kant



Van die ander kant



Daai (gebruik jou eie verkose kragwoorde hier) stene op die muur het Terry se gemoed amper gesink. Die goed was met een of ander “military grade” gom aan die hout vasgeplak. As hulle daai goed op die Titanic gebruik het sou Leo en Kate saam oud geword het.

Woensdag was n goeie dag, al die kaste wat moes uit is uit. Ek het toe gevoel dis tyd vir n celebratory drink en skiet sommer vinnig drankwinkel toe. Ek was nie vir langer as tien minute weg nie en toe ek terug kom het Terry op sy eie, die badkamer se kaste uitgepluk, daai man is n masjien, as hy op die Titanic was, sou die ysberg gesink het.

Ons celebratory drink het toe meer as een geword en dis hoekom die blog nie al gisteraand op was nie.

Vandag is weer bietjie plumbing en dis hoekom ek tyd het vir die blog. Terry fix die buitekamer se toilet en gaan die woonstel se geyser weer koppel aangesien iemand die pype ook geliberate het van hul donker gevangenis in die dak.
Dan breek ons die bankie uit die woonstel se kombuis.

So dis al vir vandag, volgende week kom die bouers dan is hier groot werk want vensters gaan skuif en mure gaan breek.
Cheers